Rigters

Deur Snyman Rijkloff

 

Die Argief

Die Koninkryk | 24 Junie 2018

 

In hierdie tyd waarin ons leef, is dit absoluut noodsaaklik, vir elke Afrikaner man, vrou en kind, om elke dag uit die Boek van Rigters te lees…

 

Al meer en meer kerke praat baie ligtelik oor die Afrikaner nasie se realiteit vandag.

Grotendeels omdat sogenaamde politiek nie in die kerk gepreek mag word nie, en omdat die meerderheid van die Predikante vandag, baie versigtig is, om nie die mense se gevoelens seer te maak nie.

Maar die realiteit bly die realiteit, en dit help nie om die gesprekke te vermy nie.

  • Ons land is in ‘n geweldige greep van moord, plundery en misdaad.
  • Ons mense word op ‘n daaglikse basis deur die vyand vermoor en beroof.
  • Ons vyand is vandag binne in die owerhede, wat oor ons Afrikaner mense aangestel is.
  • Op verskeie vlakke word daar teen ons gediskrimineer en ons kinders en jong mense word geïndoktrineer met valse ideologieë.

Die lys is lank en net so is die gevolge daarvan.

Hierdie is die dinge wat ons elke dag raak, en wanneer ek die mense hoor praat, is dit met vrees, en nie met ‘n gees van oorwinning nie.

Ons is al so moeg vir die misdaad, die korrupsie en die aanvalle op ons mense dat ons kies om die groter prentjie te vermy, en eerder vas te klou aan ons eie valse vorm van sekuriteit wat diep gewortel is in ons eie individualisme.

Daarin hoop ons maar, en bid dalk stil-stil dat die misdaad net nie ons sal raak nie.

Hier is die kop-skuif wat elke Afrikaner gaan moet maak. As jy werklik omgee vir jou volk, en daar ‘n greintjie geloof in jou is dat hierdie land weer die lig gaan sien, is hierdie die paradigma wat ons deel van ons denke gaan moet maak.

Daar is nie meer ek nie. Daar is nou net ons.

Liberalisme

 

Liberalisme fokus verskriklik op individualisme.

My regte. My wil. My veiligheid. My opinie. My seksualiteit. My geloof. Alles ek, ek, ek.

Mens sou gedink het dat ons ‘n klomp drie-jariges is, wat so aan ons suigstokkies vas klou, dat ons nie besef die dak is besig om op ons neer te kom nie.

Hier is die harde realiteit. Liberalisme, wyd gesaai deur die hoofstroom media, het nie ons boere se lewens op die plase gered nie. Dit het nie die talle lewens wat in die stede geneem is, gered van ondergang nie.

Die alternatief

 

So wat is die alternatief?

Die alternatief is ‘n reeks verhale. Stories het die mag om wêrelde te verander.

As ons mooi daar aan dink, is daar min dinge wat ons dink, sê of doen, wat nie beïnvloed is deur een of ander storie nie.

Hetsy dit jou eie storie is, of die van ‘n ander, ‘n familie lid, of ‘n storie van jou held of heldin wat jou in ‘n sekere rigting in motiveer, ons lewens draai om stories.

Jesus Christus van Nasaret self het die grootste beweging wat die wêreld nog ooit gesien het, ondermeer deur stories gevestig, en op gebou.

Net so het die boek van Rigters, ‘n hele paar verhale wat vir ons baie duidelik demonstreer, wat presies moontlik vir ‘n nasie in die omstandighede waarin ons, onsself vandag bevind.

Dit is van kardinale belang, dat die boek van Rigters nie net ligtelik gelees word, as net nog ‘n klomp stories wat geen relevansie op ons lewens vandag het nie. Daardie boek is baie relevant, en hoe beter elkeen van ons hom ken, hoe nader is ons aan die Koninkryk van God, ook vir ons hier in Suid Afrika.

Wat ons wel ingedagte moet hou, is dat die boek van Kronieke van net so veel belang is, en dat ons daarin moet leer wat gebeur, wanneer ‘n volk, buite die wil van God, teen ‘n koning rebelleer.

(‘n Vinnige wenk, dit eindig nie baie goed vir die mense van die volk wanneer hulle so iets doen nie.)

Tog met die stories in die boeke van Rigters, Kronieke, en selfs Daniel, en Jesaja, sal ons weet waarvoor om te bid, sal ons ‘n sterker eenheid vorm en sal ons beter voorbereid wees teen die aanslae van die vyand.

Die ware held is nie James Bond wat alleen rond hardloop en die wêreld red nie.

Die ware held is daardie persoon wat elke dag, die Woord bestudeer, en in liefde en in krag, saam met sy volksgenote, ‘n visie vorm vir ons volk, vir ons mense en vir ons toekoms.

 

Die Here seën jou, en die Here is met jou. Veilig bly en sterk staan.

Sê jou sê!