PLAASAANVALLE

Een van landbou se uitdagings

Deur Kobus Visser

Boere wêreldwyd word deur misdaad geteister, in Suid-Afrika is die verskil dat die boerderygemeenskap ook nog te make het met plaasaanvalle – iets wat boere in die res van die wêreld nie ken nie.

Plaasaanvalle is reeds ‘n emosionele aspek en daarom moet die aanwending
van statistieke met omsigtigheid hanteer word.

Die boerderygemeenskap se veiligheid bly een van die groot landbou uitdagings waarmee daar reg deur Suid-Afrika geworstel word. Dit is hoekom Agri SA en sy provinsiale organisasies so ‘n hoë prioriteit plaas op die veiligheid van die landbougemeenskap.

Dit bly daarom die Agri Securitas Trustfonds se strewe om boerderygemeenskappe in die stryd teen plaasgeweld finansieel by te staan om ‘n veiliger omgewing te help vestig.

Binne die struktuur van Agri SA, word baie tyd afgestaan aan beleidsontwikkeling en skakeling met die regering om ‘n beleidsomgewing daar te stel wat bevorderlik is vir ‘n veiliger landbouomgewing, om sodoende voedselsekerheid te bevorder.

Betroubare statistieke is noodsaaklik om ‘n akkurate bepaling van die omvang van plaasaanvalle en -moorde te doen. Dit is ook ‘n hulpmiddel om tendense te bepaal en waar hulpbronne aangewend moet word om die misdaadprobleem te hanteer.

 

Plaasaanvalstatistieke

 

Daar moet egter gewaak word om nie verkeerde inligting by die statistieke in te sluit en daardeur ongegronde afleidings te maak en emosies aan te vuur nie.

Die basis vir die versameling van plaasaanvalstatistieke is die definisie in die Landelike Beveiligingstrategie wat alle geweld teen persone wat op plase en kleinhoewes woon insluit, asook persone wat daar werk of persone wat die persele besoek, wat misdade insluit soos moord, verkragting, roof en wat liggaamlike skade veroorsaak.

Addisioneel hiertoe sluit dit ook alle geweld teen die plaas infrastruktuur en eiendom in met die oog daarop om wettige landbou-aktiwiteite te ontwrig.

Teen die agtergrond sluit plaasaanvalstatistieke nie net misdade teen kommersiële boere in nie, maar ook kleinhoewe eienaars wat ‘n landbou-aktiwiteit bedryf, opkomende boere, plaaswerkers, gesinslede en besoekers.

In die periode 2001/2002 is die hoogste voorkoms van plaasaanvalle in die geskiedenis geregistreer met 1069 wat in die betrokke jaar voorgekom het. Die hoogste voorkoms van moord was in die 1997/1998 periode, naamlik 153 moorde.

Wanneer statistieke van die polisie soos in die parlement bekend gemaak is vir die afgelope ses jaar van nader beskou word, het plaasaanvalle toegeneem en moorde op ‘n jaar tot jaar basis afgeneem.

Oor die afgelope 19 jaar, van 1996/1997, het 12 567 aanvalle en 1 733 moorde voorgekom, met ‘n gemiddeld van 661 aanvalle en 91 moorde per jaar.

Die syfers spreek boekdele van die omvang van plaasaanvalle en die veiligheidsbedreiging wat die gemeenskap daagliks moet trotseer.

Volgens dié statistieke het die Noordwes-provinsie die meeste plaasaanvalle naamlik 722 geregistreer gevolg deur Gauteng met 644. Die meeste moorde het in Gauteng, naamlik 69 en 61 elk in KwaZulu-Natal en Noordwes voorgekom.

In die ontleding van Gauteng se statistieke moet in ag geneem word dat die meeste van die plaasaanvalle op kleinhoewes voorkom.

 

Die kaart van Suid-Afrika toon dat 24 % van die plaasaanvalle oor die afgelope 6 jaar in die Noordwes-provinsie voorgekom het, gevolg deur Gauteng (21 %), KwaZulu-Natal (15 %) en die Vrystaat (10%).

Wat plaasaanvalle betref was die Noord-Kaap die veiligste provinsie met 1 % en die Noordwes-provinsie die mees gewelddadige provinsie in terme van die voorkoms van plaasaanvalle.

Persone wat woonagtig is op plase in landelike gebiede is veral kwesbaar teen gewapende plaasaanvalle

Gauteng het die meeste moorde gehad, naamlik 20 %. Die Noordwes en KwaZulu-Natal-provinsie het die tweede hoogste voorkoms van moorde getoon, naamlik 18 % elk. Weereens was die Noord-Kaap met 1 % die provinsie met die minste plaasmoorde.

Nasionale misdaadstastieke van die vorige jaar toon dat moorde in Suid-Afrika vir die vyfde agtereenvolgende jaar toegeneem het, terwyl roof met verswarende omstandighede, insluitende huisrowe, besigheidsrowe en voertuigkapings, ook toegeneem het.

Die laasgenoemde drie misdade staan bekend as die trio-misdade wat waarskynlik die meeste deur die publiek gevrees word en waaraan die boerderygemeenskap op ‘n konstante basis aan blootgestel word.

Dieselfde tendens is ook met die toename in plaasaanvalle in die laaste twee finansiële jare waargeneem.

Persone wat woonagtig is op plase in landelike gebiede is veral kwesbaar teen gewapende plaasaanvalle, waar hulp in sulke gevalle lank neem om op te daag weens die geisoleerdheid van die plaas.

Dit bied aan aanvallers die geleentheid om langer op die perseel te vertoef en die kanse is dan groter dat die slagoffer onderwerp kan word aan ‘n hoë mate van geweld en brutaliteit teenoor misdade wat in stedelike gebiede gepleeg word en hulp van die polisie, sekuriteitsmaatskappye en bure vinniger kan opdaag.

Nieteenstaande bogenoemde bly die voortgesette aanvalle op die boerderygemeenskap kommerwekkend, veral waar die gemeenskap verantwoordelik is om voldoende voedsel aan die groeiende bevolking te voorsien, iets wat hulle by uitnemendheid regkry.

 

‘n Boer se plan met veiligheid

 

Die landbougemeenskap kan nooit alleen daarvoor verantwoordelik gehou word om misdaad te bekamp nie. Dit bly die regering se verantwoordelikheid om alle landsburgers veilig te hou, maar die landelike veiligheidsbedreiging is egter van so ‘n aard dat die boeregemeenskap steeds na hulle eie veiligheid moet omsien.

Tog staan die gemeenskap die afgelope negentien jaar nie alleen in die stryd teen plaasmisdaad nie en met ‘n bondgenoot soos die Agri Securitas Trustfonds maak boere steeds planne om hulle veiligheid te verseker.

Kamerastelsels wat gedeeltelik deur die Trustfonds befonds is, word ingespan om voertuigbeweging in die gebied te monitor.

Die Trustfonds dra oor jare reeds finansieel by tot landelike beveiligingstelsels op boereverenigingvlak wat insluit die oprigting van kamera- en kommunikasiestelsels, oprigting van valhekke, verskaffing van landelike beveiligingtoerusting soos nagsigkameras, hommeltuie en word selfs traumaberading gebied.

Saam met die fonds maak die gemeenskap planne om hulself en hul plaaswerkers teen plaasaanvalle te help beskerm, soos in die geval van Hartbeesfontein boere in die Noordwes provinsie en die Albany Bathurst Distrikslandbou-unie in die Oos-Kaap provinsie.

Beide die gebiede word geraak deur onder andere veediefstal, huisrowe, gewapende roof en plaasaanvalle. Landelike Beveiligingsplanne is ontwikkel, waarvan die polisie deel is om die misdade te help voorkom.

Kamerastelsels wat gedeeltelik deur die Trustfonds befonds is, word ingespan om voertuigbeweging in die gebied te monitor.

In wese verskaf die kameras wat deur ‘n beheerkamer deurlopend gemonitor word, ‘n permanente observasievermoë oor die hele gebied.

Die samewerking tussen die polisie en die landelike gemeenskap van Hartbeesfontein het al tot heelwat suksesse gelei en pro-aktief word misdaad bekamp en gefokus op probleemgebiede, asook misdaad wat as ‘n prioriteit deur die gemeenskap geag word.

In die kort tydperk van drie weke, vandat die kamerastelsel in die Albany Bathurst gebied opgerig is, kon die boerderygemeenskap daarin slaag om die polisie van inligting te voorsien in vyf sake waarin verdagte voertuie betrokke was.

 

Help ons om ons land se boere, plaaswerkers en hulle gesinne te beskerm teen die gewelddadige effek van plaasaanvalle om sodoende die nadelige gevolge daarvan te help voorkom.

 

 

Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak of ‘n finansiele bydrae te maak, kontak Kobus gerus op 012-643 3400 of kobus@agrisa.co.za