Ons het manne nodig

Deur Snyman Rijkloff
27 Mei 2018

Waar is ons manne van vandag? Wie is ons jong manne se rolmodelle vandag?

Ons idee van man-wees wissel van die opgeblaasde prentjies uit Hollywood en GQ tydskrif, tot en met die illusie van rykdom, voertuie, klere en ‘n leefstyl.

Die stemme van sosiale media, moderne rolprente en dit wat ons in die winkelsentrums sien, praat veel harder as die stem van wysheid en insig, wat vir ons vertel wat die eintlike kern van man wees behels.

Min weet ons dat die oorsprong van man-wees, lê in die hart, eerder as in die voorkoms. Min dink ons ooit daaraan dat suiwer man-wees, net so veel deur dade uitgebeeld word, as deur woorde. Min sien ons dat man-wees, die dele is waar mense jou nie noodwendig gaan raak sien nie. Daar waar mens nie noodwendig erkenning kry nie.

Met ons harte soek ons manne ‘n goeie geveg, en ‘n woeste avontuur. En tog bied die samelewing dit vir ons, deur goeie stories en uitstekende vermaak. En vir die oomblik voel ons beter. Maar nie lank nie, of daardie honger, daardie leegheid vat pos en oorweldig ons denke, soveel so dat ons gryp na enige iets om net soos ‘n man te voel. Hetsy dit drank, verslawing, of selfs nog vermaak is, bly ons soek na daardie vervulling wat ons konstant ontwyk.

Sodoende blameer die ouer mans die jonger generasie wat oënskynlik ruggraatloos is, en die jonger generasie blameer die ouer generasie omdat hulle te konserwatief is en nie die post-moderne era verwelkom nie.

En so kan die groter meerderheid van die manne in Suid Afrika vandag met eerlikheid sê dat ons nie die vaagste benul het, van wat dit verg om regtig die man te wees waarvoor ons geskape is nie.

En wie kan ons blameer? Met vele uitsonderings, is dit nie asof ons die beste van voorbeelde gehad het nie.

Dit is inderdaad waar dat, die jong boere van vandag hulle identiteit vind in hulle beroep, en in hulle vermoë om te kan skiet en te kan jag. Net so vind baie ander jong manne in die stad hulle identiteit in hulle vermoë om goed besigheid te kan doen, of die korporatiewe leer te klim. Ander mans weer vind hulle identiteit in hulle sport, in hulle universiteits grade, en selfs ook in hulle vriendekringe.

Nie een van hierdie identiteite is daar enigsins iets verkeer nie, maar elkeen van hierdie identiteite word beïnvloed deur ‘n wêreld wat vir ons vertel hoe ons moet dink, hoe ons moet leef en hoe ons moet glo.
Suid Afrika vandag, het sportsmanne nodig. Suid Afrika vandag, het sakemanne nodig wat die korporatiewe leer klim. Suid Afrika vandag, het boere nodig wat kan jag.

Ons het manne nodig wat nie buig voor die leun van om polities korrek te wees in ‘n omgewing waar selfs ons kinders in gevaar van dood en misdaad lewe nie.

Maar Suid Afrika het meer as dit nodig. Ons Afrikaner volk het meer as dit nodig. Ons het nodig dat manne besef, dat hulle identiteit nie in ‘n reënboognasie lê nie, maar in ‘n Afrikaner volk wat wil leef, bou, en streef na ‘n beter land en ‘n beter toekoms.

Ons het manne nodig wat wanneer hulle opstaan in die oggend, reg deur die dag tot en met hulle weer in die bed klim, weet en oortuig is van die geloof dat ons identiteit in Christus is, en dat niemand daardie identiteit van ons af kan weg neem nie.

Ons het manne nodig, wat die Woord van God ken, en ook sy krag in ons lewens. In ons huise, by die werk, daar waar ons kuier en juis ook daar waar ons deur die vyand aangeval word.

Ons het manne nodig wat nie bang is nie, maar in liefde, geloof en krag opstaan vir geregtigheid, en vir die Koninkryk van God.

Ons het manne nodig wat nie buig voor die leun van om polities korrek te wees in ‘n omgewing waar selfs ons kinders in gevaar van dood en misdaad lewe nie.

Ons het manne nodig wat verby die leuens van die vyand kan sien, wat nie oorweldig raak deur die negatiwiteit, donker en ongeloof van selfs ons eie volk nie, maar wie se oë gerig is op Jesus Christus, en wat sê ons is reg vir die uitdagings van ons land.

Ons is reg om nie meer ‘n blinde oog te gooi, vir die misdaad, die terreur aanvalle en die absolute ongeregtigheid wat soos ‘n donker wolk oor hierdie land hang nie.

Ons is reg om die bydrae wat ons kan maak, groot of klein, in elkeen se onderskeidelike veld, te maak, en nie terug te deins vir enige aanval, verbaal of andersins nie.

Ons het manne nodig wat weet hoe om te bid, wat weet wat dit is om God te vrees, en wat weet hoe om te veg.
Hoe word ons hierdie manne?

Verseker nie deur na Hollywood te kyk nie. Ook nie op die tienuur nuus nie. Jou vriende en kolegas gaan jou ook heelwaarskynlik vertel wat hulle op die radio gehoor het.

Nee, ons begin by die Woord van God. Jy vat jou Bybel, en jy lees hom asof jou lewe daarvan afhang. (Met Suid Afrika se misdaad statistieke hang jou lewe letterlik daarvan af.)

Jy lees die Woord met ‘n verwagting, en met die geloof dat die Here vir jou sal wys, wat dit is wat jy kan doen, om ons volk uit hierdie put uit te lig.

En dan bid jy. Elke oggend en elke aand.

Jy vra die Here wat jy kan doen, om sy Koninkryk ook hier in Suid Afrika te vestig. As dit is om te skryf, dan skryf jy. As dit is om te sing, dan sing jy. As dit is om te bid, dan bid jy. As dit is om deel te neem aan bewusmakingsveldtogte, dan doen jy dit.

En laastens, praat ons daaroor. Sonder om te kla. Sonder om die vinger te wys, sit ons die televisie af, klim ons uit ons doppe, en begin kreatiewe maniere bespreek oor hoe ons proaktief ons volk deur hierdie tyd kan trek. Ons praat met ons kinders en ons vriende daaroor.

Deur nie meer stil te bly nie, plaas ons onsself in ‘n posisie van oorwinning, in stede van vrees. ‘n Plek van hoop, eerder as die houding van ‘n slagoffer. Ons spreek lewe, en nie dood nie. So dryf ons vrees uit ons harte uit, en staan ons op teen die probleem. So dryf ons geweld uit ons strate uit, en veg die goeie geveg.

Die Here seën jou, die Here is met jou, en Hy beskerm jou.

Ps. Vir die wat nog nie getroud is nie, en vir die wat reeds getroud is. Geen vrou waardeer ‘n man wat heeldag kla oor hoe sleg die land en die owerhede is nie. Vrouens soek helde. Die tyd het weereens vir ons manne hier in Suid Afrika aangebreek, om ons manlikheid te wys.

Kom ons spring aan die werk.